The L-Space Web

Wrede Teater

'n Skyfwêreld kortverhaal
Deur Terry Pratchett

Copyright © Terry Pratchett 1993


Dit was ‘n heerlike somersoggend, die soort dag wat ‘n man blygemaak het om te leef. En die man sou heelwaarskynlik blyer lewendig gewees het. Hy was, inderdaad, dood. Dit sou moeilik wees om meer dood te wees sonder enige spesiale opleiding.

“Nou ja,” sê Sersant Kolon (Ankh-Morpork Stadsgarde, Nagwag), terwyl hy sy notaboek raadpleeg, “so ver het ons die doodsoorsaak as a) doodgeslaan met ten minste een stomp voorwerp, b) verwurg met ‘n string wors en c) verskeur deur ten minste twee diere met groot, skerp tande. Wat doen ons nou, Knoetsie?”

“Neem die verdagte in hegtenis, ‘sant,” antwoord Korporaal Knoets terwyl hy vlink salueer.

“Verdagte, Knoetsie?”

“Vir hom,” antwoord Knoetsie, terwyl hy die lyk met sy steuwel por. “Ek sou sê dis hoogs verdags, om so dood te wees. Hy’t gedrink ook. Ons kan hom opskryf vir dood op straat wees.”

Kolon krap sy kop. Om die lyk in hegtenis te neem het, natuurlik, sekere voordele. Maar …

“Ek reken,” antwoord hy langsaam, “dat Kaptein Futs die een uitgesorteer sal wil hê. Jy beter maar die lyk terug vat na die Waghuis, Knoetsie.”

“En dan, kan ons die wors eet, ‘sant?” vra Korporaal Knoetsie.


Dis nie maklik om die mees hoogeplaasde polisieman in Ankh-Morpork, die beste stad op Skyfwêreld [*] te wees nie.

Daar was heelwaarskynlik wêrelde, het Kaptein Futs in sy donkerder oomblikke gepeins, waar daar nie towenaars (wat geslote kamer raaisels allerdaags gemaak het) was nie, of lewende lyke (moordsake was rêrig anders wanneer die slagoffer ook die sleutel getuie kan wees) en waar honde op vertrou kon word om niks gedurende die nag te doen en nie rond te loop en met mense te gesels nie. Kaptein Futs het in logika geglo soos ‘n man in die woestyn in ys glo – in ander woorde, dit was was iets wat hy baie nodig gehad het, maar dié was net nie die wêreld daarvoor nie. Net eenkeer, het hy gedink, sou dit lekker wees om iets op te los.

Hy kyk af na die blou gesig van die lyk op die blad, en voel ‘n klein flikker van opgewondenheid. Hier was leidrade. Hy’t nog nooit voorheen behoorlike leidrade gesien nie.

“Kon nie ‘n rower gewees het nie, Kaptein,” sê Sersant Kolon. “Siende, sy sake vol geld was. Elf daalders.”

“Ek sou nie dit vol noem nie,” sê Kaptein Futs.

“Dit was alles in sikspense en tiekies, kaptein. Ek’s verstom sy broek kon dit hou. En ek het met geslepenheid vasgestel dat hy ‘n sirkusbaas was, kaptein. Hy het ‘n paar kaartjies in sy sak gehad, kaptein. ‘Tjaart Dommel, Kinder Vermaaker’”.

“Ek veronderstel niemand het enige iets gesien nie?” vra Futs.

“Wel, kaptein,” antwoord Sersant Kolon hulpvaardig, “Ek het jong Konstabel Roed gestuur om ‘n paar getuies te vind”.

“Jy het vir Korporaal Roed gevra om ‘n moord te ondersoek? Heeltemal op sy eie?” vra Futs.

Die sersant het sy kop gekrap.

“En hy het het my gevra of ek iemand ken wat baie oud en ernstig siek is.”


En op die magiese Skyfwêreld is daar altyd een gewaarborgde getuie vir enige moord. Dis sy werk.

Konstabel Roed, die Wag se jongste lid, het baie mense as eenvoudig getref. En hy was. Hy was ongelooflik eenvoudig, maar op dieselfde manier as wat ‘n swaard eenvoudig is, of ‘n hinderlaag eenvoudig is. Hy was ook moontlik die mees liniêre denker in die geskiedenis van die heelal.

Hy het langs die bed van ‘n ou man, wie nogal die geselskap geniet het, gewag. En nou was dit tyd om sy notaboek uit te haal.

“Kyk, ek weet dat u iets gesien het, meneer,” sê hy. “U was daar.”

WEL, JA, antwoord Die Dood. EK MOET DAAR WEES, JY WEET. MAAR HIERDIE ONDERVRAGING IS HOOGS ONREëLMATIG.

“U sien, meneer,” sê Korporaal Roed, “soos ek die wet verstaan, is u ‘n Medepligtige Na Die Feit. Of moontlik Voor Die Feit.”

JONG MAN, EK IS DIE FEIT.

“En ek is ‘n amptenaar van die Gereg,” sê Korporaal Roed. “Daar moet wette wees, weet jy.”

JY WIL Hê DAT EK … UM…IEMAND UITLEWER? KLIKBEK SPEEL? MET DIE MANDJIE PATATS UITKOM? NEE. NIEMAND HET MNR DOMMEL DOODGEMAAK NIE. DAARMEE KAN EK JOU NIE HELP NIE.

“O, ek weet nie, meneer,” sê Roed, “Ek dink u het.”

DEKSELS.

Die Dood kyk hoe Roed bukkend by die nou trappe van die pandok afgaan.

NOU JA, WAAR WAS EK …

Ekuus tog,” sê die verskrompelde ou man in die bed. “Ek is maar net toevallig 107, weet jy. Ek het nie die hele dag nie.”

O, JA, HOE JUIS.

Die Dood verskerp sy sens. Dit was die eerste keer ooit wat hy die polisie bygestaan het met ‘n ondersoek. Tog, almal het ‘n plig om na te kom.


Korporaal Roed het deur die dorp gewandel. Hy het ‘n Teorie gehad. Hy’t ‘n boek gelees oor Teorieë. Jy tel al die leidrade bymekaar, en dan kry jy ‘n Teorie. Alles moet pas.

Daar was wors. Iemand moes die wors koop. En daar was daar die tiekies. Net een onderafdeling van die mensdom betaal gewoonlik vir goed met tiekies.

Hy het ingeloer by die worsmaker. Hy het ‘n groep kinders daar gekry en ‘n bietjie met hulle gesels.

Daarna het hy terug gedrentel na die stegie, waar Korporaal Knoets die buitelyne van die lyk met kryt gemerk het (en dit ook ingekleur het, en ‘n pyp en ‘n kierie bygevoeg het en ‘n paar bomme en bossies in die agtergrond – mense het al sewe sikspense in sy helm gegooi). Hy het ‘n paar oomblikke sy aandag gegee aan ‘n hoop rommel aan die ver punt, en toe gaan sit hy op ‘n stukkend vat.

“Reg … jy kan maar nou uitkom,” sê hy in die lug. “Ek het nie geweet daar is nog gnome oor in die wêreld nie.”

Die rommel het geritsel. Hulle loop uit agtermekaar – die klein mannetjie met die rooi hoed, die boggelrug en die winkelhaak neus, die klein vroutjie in die mopmus met die nog kleiner babatjie, die klein polisieman, die hond met die plooikraag om sy nek en die baie klein krokodil.

Korporaal Roed het gesit en luister.

“Hy’t ons dit maak doen,” vertel die klein mannetjie. Hy het ‘n verbassende diep stem gehad. “Hy het ons geslaan. Selfs die krokodil. Dit was al wat hy verstaan het, om goed met ‘n stok te slaan. En hy het altyd al die geld gevat wat die hond Tobie ingesamel het en hom dronk gesuip. Toe hardloop ons weg en hy vang ons in die stegie en toe lê hy in by Judi en die baba en toe val hy om en –-”

“Wie het hom eerste geslaan?” vra Roed.

“Ons almal!”

“Maar nie baie hard nie,” sê Roed. “Julle is almal te klein. Julle het hom nie doodgemaak nie. Ek het ‘n baie oortuigende verklaring wat daarvan getuig. So ek het gegaan en weer na hom gekyk. Hy’t dood verstik. Wat’s die?”

Hy het ‘n klien leer plaatjie opgehou.

“Dis ‘n stem vermomer,” antwoord die klein polisieman. “Hy het dit gebruik vir die stemme. Hy’t gesê ons s’n was nie snaaks genoeg nie.”

“So maak mens!” sê die een wat Judi genoem is.

“Dit het vasgesit in sy keel,” vertel Carrot. “Ek stel voor julle hardloop weg. Net so ver as wat julle kan.”

“Ons het gedink ons kan ‘n werkers koöperasie stig,” sê die leier gnoom.

“Jy weet … eksperimentele drama, straat teater, so iets. Nie mekaar slaan met stokke nie …”

“Julle het dit gedoen vir kinders?” vra Roed.

“Hy’t gesê dis ‘n nuwe soort vermaak. Hy’t gesê dit sal byval vind.”

Roed het opgestaan en die stem vermomer tussen die rommel ingegooi.

“Mense sal dit nie duld nie,” het hy gesê. “Dis nie hoe om dit te doen nie.”

[*] Wat plat is en deur die ruimte sweef op die rug van ‘n enorme skilpad, en hoekom nie …


“Theatre of Cruelty” is oorspronklik geskryf vir die W.H. Smith “Bookcase” tydskrif. Die uitgebreide weergawe hierbo is later gepubliseer in die programme boek vir die OryCon 15 kongres.

Hierdie Internet weergawe van die storie is beskikbaar gestel met die vriendelikie vergunning van die auteur, wie alle herdruk en ander regte voorbehou. In sy eie woorde: “Ek wil dit nie gedruk enige plek versprei sien nie maar ek gee nie om as mense dit aflaai vir hulle eie plesier nie.”

Vertaal deur Judi Burger


[Up]
This section of L-Space is maintained by The L-Space Librarians

The L-Space Web is a creation of The L-Space Librarians
This mirror site is maintained by The L-Space Librarians